Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 41:12-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. En daar was by ons ’n Hebreeuse jongman, ’n kneg van die owerste van die lyfwag — aan hom het ons dit vertel, en hy het ons drome vir ons uitgelê; aan elkeen het hy die uitlegging volgens sy droom gegee.

13. En soos hy ons dit uitgelê het, so het dit gebeur — my het hy in my rang herstel, maar hom opgehang.

14. Toe laat Farao Josef roep, en hulle het hom gou uit die gevangenis uitgehaal, en hy het hom geskeer en ander klere aangetrek; en hy het by Farao gekom.

15. Toe sê Farao vir Josef: Ek het ’n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie; maar ek het van jou hoor verklaar dat jy ’n droom net hoef te hoor om dit uit te lê.

16. En Josef het Farao geantwoord en gesê: Niks vir my nie! God sal Farao ’n gunstige antwoord gee.

17. Toe sê Farao vir Josef: Kyk, ek het in my droom gestaan op die wal van die Nyl,

18. en sewe koeie het uit die Nyl uit opgekom wat vet van vleis en mooi van uiterlik was, en hulle het gaan wei in die rietgras.

19. En kyk, ná hulle kom daar nog sewe koeie op, skraal en baie lelik van uiterlik en maer van vleis; ek het soos hulle so lelik in die ganse Egipteland nie gesien nie.

Lees volledige hoofstuk Génesis 41