Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 4:16-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. Toe gaan Kain weg van die aangesig van die Here, en hy het gewoon in die land Nod, aan die oostekant van Eden.

17. En Kain het sy vrou beken, en sy het swanger geword en Henog gebaar. Daarna bou hy ’n stad en noem die stad na die naam van sy seun Henog.

18. En vir Henog is Irad gebore; en Irad was die vader van Mehújael; en Mehújael was die vader van Metúsael; en Metúsael die vader van Lameg.

19. En Lameg het vir hom twee vroue geneem. Die naam van die eerste was Ada, en die naam van die tweede Silla.

20. En Ada het Jabal gebaar. Hy was die vader van die tentbewoners en die veeboere.

21. Die naam van sy broer was Jubal. Hy was die vader van almal wat op siters en fluite speel.

22. En Silla het ook gebaar, naamlik Tubal-Kain, ’n smid wat allerhande koper- en ysterinstrumente gemaak het. En die suster van Tubal-Kain was Naéma.

23. En Lameg het aan sy vroue gesê: Ada en Silla, hoor na my stem! Vroue van Lameg, luister na my woord! Voorwaar, ek slaan ’n man dood wat my wond en ’n seun wat my kwes.

24. Want Kain sal sewe maal gewreek word, maar Lameg sewen-en-sewentig maal.

25. En Adam het sy vrou weer beken, en sy het ’n seun gebaar en hom Set genoem. Want, het sy gesê, God het my ’n ander kind geskenk in die plek van Abel, omdat Kain hom doodgeslaan het.

26. En ook vir Set is ’n seun gebore, wat hy Enos genoem het. Toe het hulle die Naam van die Here begin aanroep.

Lees volledige hoofstuk Génesis 4