Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 30:35-43 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

35. En hy het dieselfde dag uitgekeer die gestreepte en bont bokke en al die gestippelde en bont bokooie, almal wat wit aan hulle gehad het, en almal wat swart was onder die skaaplammers, en dié aan sy seuns afgegee.

36. En hy het ’n afstand van drie dae bepaal tussen hom en Jakob; en Jakob het die orige kleinvee van Laban opgepas.

37. Toe neem Jakob vir hom groen latte van populier-, amandel- en plataanhout, en hy skil daarin wit strepe, sodat die wit van die latte uitkom;

38. en hy sit die latte wat hy geskil het, vlak voor die vee in die trogge, in die drinkbakke waar die vee kom drink het; en hulle het verhit geword as hulle kom drink.

39. En die vee het verhit geword by die latte, en die vee het gelam gestreeptes, gestippeldes en bontes.

40. Toe skei Jakob die lammers, en hy draai die koppe van die vee na die gestreeptes en almal wat swart was onder Laban se vee. En hy het vir hom afsonderlike troppe gemaak en dié nie onder Laban se vee gesit nie.

41. En elke keer as die sterkste diere verhit word, sit Jakob die latte voor die oë van die vee in die trogge, sodat hulle verhit sou word by die latte.

42. Maar as die vee swakkerig was, het hy dit nie ingesit nie; so was dan die swakkes vir Laban en die sterkes vir Jakob.

43. En die man het buitengewoon uitgebrei en baie kleinvee en slavinne en slawe en kamele en esels gehad.

Lees volledige hoofstuk Génesis 30