Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 30:22-36 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

22. En God het aan Ragel gedink, en God het haar verhoor en haar skoot geopen:

23. sy het bevrug geword en ’n seun gebaar. Toe sê sy: God het my smaad weggeneem.

24. En sy het hom Josef genoem en gesê: Mag die Here vir my ’n ander seun daar byvoeg!

25. En nadat Ragel Josef gebaar het, sê Jakob vir Laban: Laat my trek, dat ek na my woonplek en my land kan gaan.

26. Gee my vroue en my kinders waarvoor ek u gedien het, dat ek kan gaan; want u weet self hoe ek u gedien het.

27. Daarop antwoord Laban hom: As ek nou guns in jou oë gevind het — ek het waargeneem dat die Here my om jou ontwil geseën het.

28. Verder sê hy: Bepaal vir my jou loon, en ek sal dit gee.

29. Toe antwoord hy hom: U weet self hoe ek u gedien het en wat u vee by my geword het.

30. Want min was dit wat u vóór my koms gehad het, en dit het sterk vermeerder; en die Here het u geseën op my voetspoor. Wanneer sal ek dan nou ook vir my huis werk?

31. En hy vra: Wat moet ek jou gee? Toe antwoord Jakob: U hoef my niks te gee nie. As u hierdie ding vir my wil doen, wil ek weer u kleinvee oppas, ja, versorg —

32. ek sal vandag deur al u kleinvee deurgaan en daaruit al die gestippelde en bont vee uitkeer; al die vee onder die skaaplammers wat swart is, en die bontes en gestippeldes onder die bokke, dit moet my loon wees.

33. En my regverdigheid sal later vir my getuig: as u kom om my loon na te gaan, sal alles wat nie gestippel of bont is onder die bokke, en wat nie swart is onder die skaaplammers nie, gesteelde goed by my wees.

34. Toe antwoord Laban: Goed, laat dit wees volgens jou woord!

35. En hy het dieselfde dag uitgekeer die gestreepte en bont bokke en al die gestippelde en bont bokooie, almal wat wit aan hulle gehad het, en almal wat swart was onder die skaaplammers, en dié aan sy seuns afgegee.

36. En hy het ’n afstand van drie dae bepaal tussen hom en Jakob; en Jakob het die orige kleinvee van Laban opgepas.

Lees volledige hoofstuk Génesis 30