Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 30:10-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. En Silpa, die slavin van Lea, het vir Jakob ’n seun gebaar.

11. Toe sê Lea: Gelukkig! En sy het hom Gad genoem.

12. Daarna het Silpa, die slavin van Lea, vir Jakob ’n tweede seun gebaar.

13. Toe sê Lea: Ek, gelukkige! want die dogters sal my gelukkig prys. En sy het hom Aser genoem.

14. En Ruben het in die dae van die koringoes gegaan en in die veld liefdesappels gevind en dié na sy moeder Lea gebring. Toe sê Ragel vir Lea: Gee my tog van jou seun se liefdesappels.

15. Maar sy antwoord haar: Is dit nie genoeg dat jy my man geneem het nie, dat jy ook my seun se liefdesappels wil neem? En Ragel sê: Daarom mag hy vir jou seun se liefdesappels vannag by jou slaap.

16. Toe Jakob dan die aand uit die veld kom, gaan Lea hom tegemoet met die woorde: Jy moet na mý kom, want ek het jou eerlik gehuur vir my seun se liefdesappels. En hy het dié nag by haar geslaap.

17. En God het Lea verhoor: sy het bevrug geword en vir Jakob ’n vyfde seun gebaar.

18. Toe sê Lea: God het my loon gegee, omdat ek my slavin aan my man gegee het. En sy het hom Íssaskar genoem.

19. En Lea het weer bevrug geword en vir Jakob ’n sesde seun gebaar.

20. Toe sê Lea: God het my ’n mooi geskenk gegee; nou sal my man eindelik by my woon, want ek het vir hom ses seuns gebaar. En sy het hom Sébulon genoem.

21. En daarna het sy ’n dogter gebaar en haar Dina genoem.

22. En God het aan Ragel gedink, en God het haar verhoor en haar skoot geopen:

23. sy het bevrug geword en ’n seun gebaar. Toe sê sy: God het my smaad weggeneem.

24. En sy het hom Josef genoem en gesê: Mag die Here vir my ’n ander seun daar byvoeg!

25. En nadat Ragel Josef gebaar het, sê Jakob vir Laban: Laat my trek, dat ek na my woonplek en my land kan gaan.

26. Gee my vroue en my kinders waarvoor ek u gedien het, dat ek kan gaan; want u weet self hoe ek u gedien het.

27. Daarop antwoord Laban hom: As ek nou guns in jou oë gevind het — ek het waargeneem dat die Here my om jou ontwil geseën het.

28. Verder sê hy: Bepaal vir my jou loon, en ek sal dit gee.

Lees volledige hoofstuk Génesis 30