Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 29:12-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. En Jakob het Ragel vertel dat hy haar vader se broer en die seun van Rebekka was. Daarop het sy geloop en dit aan haar vader vertel.

13. Toe Laban die tyding hoor van Jakob, die seun van sy suster, loop hy hom tegemoet en omhels hom en soen hom en bring hom in sy huis. En hy het aan Laban al hierdie dinge vertel.

14. Toe sê Laban vir hom: Waarlik, jy is my been en my vlees. En hy het by hom ’n volle maand gebly.

15. Daarop het Laban aan Jakob gevra: Sou jy my verniet dien, omdat jy my broer is? Sê my wat jou loon moet wees.

16. En Laban het twee dogters gehad — die naam van die oudste was Lea, en die naam van die jongste Ragel.

17. En Lea het dowwe oë gehad, maar Ragel was skoon van gestalte en mooi van aansien.

18. En Jakob het Ragel liefgehad, daarom het hy gesê: Ek sal u sewe jaar dien vir Ragel, u jongste dogter.

19. Toe antwoord Laban: Dit is beter dat ek haar aan jou gee as dat ek haar aan ’n ander man gee. Bly by my.

20. So het Jakob dan sewe jaar gedien vir Ragel; en hulle was in sy oë soos ’n paar dae, omdat hy haar liefgehad het.

21. Toe sê Jakob vir Laban: Gee tog my vrou, want my dienstyd is om, dat ek by haar kan ingaan.

22. Daarop het Laban al die manne van die plek versamel en ’n maaltyd berei.

23. Maar in die aand het hy sy dogter Lea geneem en haar na hom gebring; en hy het by haar ingegaan.

24. En Laban het aan haar sy slavin Silpa gegee, naamlik aan sy dogter Lea, as slavin.

Lees volledige hoofstuk Génesis 29