Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 27:35-46 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

35. En hy antwoord: Jou broer het gekom met bedrog en jou seën weggeneem.

36. Daarop sê hy: Sou hulle hom Jakob noem, omdat hy my nou twee keer onderkruip het? My eersgeboortereg het hy geneem, en daar het hy nou my seën geneem! Verder vra hy: Het u vir my geen seën oorgehou nie?

37. Toe antwoord Isak en sê vir Esau: Kyk, ek het hom as heerser oor jou gestel en aan hom al sy broers as dienaars gegee; en ek het hom met koring en mos versorg. Wat kan ek dan nou vir jóú doen, my seun?

38. Daarop het Esau aan sy vader gevra: Het u net een seën, my vader? Seën mý ook, my vader! En Esau het sy stem verhef en geween.

39. Toe antwoord sy vader Isak en sê vir hom: Kyk, ver van die vet grond van die aarde sal jou woonplek wees, en ver van die dou van die hemel daarbo.

40. En van jou swaard sal jy lewe, en jou broer sal jy dien. Maar as jy jou kragte inspan, sal jy sy juk van jou nek afruk.

41. En Esau was Jakob vyandig gesind vanweë die seën waarmee sy vader hom geseën het, en Esau het in sy hart gedink: Die dae van die rou oor my vader is naby; dan sal ek my broer Jakob doodmaak.

42. Maar toe hulle aan Rebekka die woorde van Esau, haar oudste seun, vertel, stuur sy en laat Jakob, haar jongste seun, roep en sê vir hom: Kyk, jou broer Esau sal hom op jou wreek deur jou dood te maak.

43. My seun, luister dan nou na my: maak jou klaar, vlug tog na Haran, na my broer Laban,

44. en bly ’n rukkie by hom tot die woede van jou broer bedaar,

45. tot die toorn van jou broer teen jou bedaar en hy vergeet het wat jy hom aangedoen het. Dan sal ek stuur en jou daar laat haal. Waarom moet ek julle altwee op een dag verloor?

46. Verder sê Rebekka vir Isak: Ek is moeg vir my lewe vanweë die dogters van Het. As Jakob ’n vrou neem uit die dogters van Het, soos húlle is, uit die dogters van die land — waarvoor lewe ek dan?

Lees volledige hoofstuk Génesis 27