Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 24:39-51 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

39. Toe het ek aan my heer gesê: Miskien sal die vrou my nie volg nie.

40. Maar hy het my geantwoord: Die Here voor wie se aangesig ek gewandel het, sal sy engel met jou saamstuur, en Hy sal jou weg voorspoedig maak, sodat jy vir my seun ’n vrou uit my geslag en uit die huis van my vader kan gaan haal.

41. Dan sal jy ontslae wees van die eed aan my: as jy by my geslag kom en hulle haar aan jou nie wil gee nie, dan is jy ontslae van die eed aan my.

42. Ek het toe vandag by die fontein gekom en gesê: Here, God van Abraham, my heer, as U dan my weg waar ek op gaan, voorspoedig wil maak —

43. ek staan hier by die fontein — laat dít nou tog gebeur: die jongmeisie wat uitkom om te skep en aan wie ek sal sê: Laat my tog ’n bietjie water uit jou kruik drink —

44. en wat my sal antwoord: Drink u self, en ook vir u kamele sal ek skep — sý is die vrou wat die Here vir die seun van my heer bestem het.

45. Ek het nog nie klaar in my hart gespreek nie of daar het Rebekka uitgekom met haar kruik op die skouer en na die fontein afgedaal en geskep. Ek het toe vir haar gesê: Laat my tog drink!

46. En sy het dadelik haar kruik van haar laat afsak en gesê: Drink, en ek sal u kamele ook laat drink. En ek het gedrink, en sy het ook die kamele laat drink.

47. Toe vra ek haar en sê: Wie se dogter is jy? En sy antwoord: Die dogter van Bétuel, die seun van Nahor wat Milka vir hom gebaar het. Daarop het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar hande,

48. en ek het my in aanbidding neergebuig voor die Here en die Here geloof, die God van Abraham, my heer, wat my op die regte weg gelei het om die dogter van my heer se broer vir sy seun te gaan haal.

49. As julle dan nou guns en trou aan my heer wil bewys, sê dit vir my; en so nie, sê dit vir my, dat ek regs of links kan gaan.

50. Toe antwoord Laban en Bétuel en sê: Van die Here kom die saak; ons kan jou daar geen kwaad of goed van spreek nie.

51. Daar staan Rebekka voor jou, neem haar en gaan heen, dat sy ’n vrou kan wees vir die seun van jou heer, soos die Here gespreek het.

Lees volledige hoofstuk Génesis 24