Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 2:8-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. Ook het die Here God ’n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ’n plek gegee.

9. En die Here God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.

10. En daar het ’n rivier uit Eden uitgegaan om die tuin nat te maak; en daarvandaan is dit verdeel en het vier lope geword.

11. Die naam van die eerste is die Pison. Dit is hy wat om die hele land Háwila loop waar die goud is.

12. En die goud van dié land is goed. Daar is ook balsemgom en onikssteen.

13. En die naam van die tweede rivier is die Gihon. Dit is hy wat om die hele land Kus loop.

14. En die naam van die derde rivier is die Hiddékel. Dit is hy wat oos van Assur loop. En die vierde rivier is die Frat.

15. Toe het die Here God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak.

16. En die Here God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet,

17. maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.

18. Ook het die Here God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas.

19. En die Here God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al die voëls van die hemel en hulle na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou noem. En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam wees.

Lees volledige hoofstuk Génesis 2