Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 17:3-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. Toe val Abram op sy aangesig, en God het met hom gespreek en gesê:

4. Wat My aangaan, kyk, my verbond is met jou, en jy sal die vader van ’n menigte van nasies word.

5. Daarom sal hulle jou nie meer Abram noem nie, maar jou naam sal wees Abraham, want Ek maak jou ’n vader van ’n menigte van nasies.

6. En Ek sal jou buitengewoon vrugbaar maak: Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom.

7. En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ’n ewige verbond, om vir jou ’n God te wees en vir jou nageslag ná jou.

8. En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as ’n ewige besitting; en Ek sal vir hulle ’n God wees.

9. Verder het God aan Abraham gesê: Maar jý moet my verbond hou, jy en jou nageslag ná jou, van geslag tot geslag.

10. Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word —

11. julle moet aan die vlees van julle voorhuid besny word, en dit sal ’n teken wees van die verbond tussen My en julle.

12. ’n Seuntjie van agt dae dan moet onder julle besny word, al wat manlik is in julle geslagte. Die wat in jou huis gebore is, en die wat van enige vreemdeling met geld gekoop is, wat nie van jou geslag is nie —

13. die wat in jou huis gebore en wat met jou geld gekoop is, moet sekerlik besny word. So moet dan my verbond in julle vlees wees as ’n ewige verbond.

14. En wat manlik is en die voorhuid het, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie — dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word: hy het my verbond verbreek.

15. Verder het God aan Abraham gesê: Sarai, jou vrou, moet jy nie Sarai noem nie, maar haar naam sal Sara wees.

Lees volledige hoofstuk Génesis 17