Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 1:5-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.

6. En God het gesê: Laat daar ’n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters en waters.

7. God het toe die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel is, geskei van die waters wat bo die uitspansel is. En dit was so.

8. En God het die uitspansel hemel genoem. En dit was aand en dit was môre, die tweede dag.

9. En God het gesê: Laat die waters onder die hemel hulle op een plek versamel, sodat die droë grond sigbaar word. En dit was so.

10. En God het die droë grond aarde genoem, en die versameling van die waters het Hy see genoem. Toe sien God dat dit goed was.

11. En God het gesê: Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra, waarin hulle saad is, op die aarde. En dit was so.

12. Die aarde het voortgebring grasspruitjies, plante wat saad gee volgens hulle soorte en bome wat vrugte dra, waarin hulle saad is, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was.

13. En dit was aand en dit was môre, die derde dag.

14. En God het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare.

15. Laat hulle ook dien as ligte aan die uitspansel van die hemel om lig te gee op die aarde. En dit was so.

16. God het toe die twee groot ligte gemaak: die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre.

17. En God het hulle aan die uitspansel van die hemel gestel om lig te gee op die aarde

18. en om te heers oor die dag en oor die nag en om skeiding te maak tussen die lig en die duisternis. Toe sien God dat dit goed was.

19. En dit was aand en dit was môre, die vierde dag.

20. En God het gesê: Laat die waters wemel met ’n gewemel van lewende wesens, en laat die voëls oor die aarde vlieg langs die uitspansel van die hemel.

21. En God het die groot seediere geskape en al die lewende wesens wat beweeg, waar die waters van wemel, volgens hulle soorte; en al die gevleuelde voëls volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was.

Lees volledige hoofstuk Génesis 1