Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 9:22-33 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

22. Toe sê die Here vir Moses: Steek jou hand na die hemel uit, en daar sal hael wees in die hele Egipteland, oor mense en diere en oor al die plante van die veld in Egipteland.

23. En Moses het sy staf na die hemel uitgesteek, en die Here het donder en hael gegee, en vuur het na die aarde uitgeskiet; en die Here het hael op Egipteland laat reën.

24. En daar was hael en onophoudelike vuur binne-in die hael, baie swaar, soos in die hele Egipteland nooit gewees het vandat dit aan ’n volk behoort het nie.

25. En die hael het in die hele Egipteland geslaan alles wat in die veld was, mense sowel as diere. Ook het die hael al die plante van die veld geslaan en al die bome van die veld verbreek.

26. Net in die land Gosen, waar die kinders van Israel was, was daar geen hael nie.

27. Toe het Farao Moses en Aäron laat roep en vir hulle gesê: Ek het dié keer sonde gedoen. Die Here is reg, maar ek en my volk het ongelyk.

28. Bid tot die Here, want daar is oorgenoeg donder van God en hael gewees; dan sal ek julle laat trek, en julle hoef nie langer te bly nie.

29. Toe sê Moses vir hom: So gou as ek die stad uitgaan, sal ek my hande tot die Here uitbrei: die donder sal ophou en die hael sal nie meer wees nie; sodat u kan weet dat die aarde aan die Here behoort.

30. Maar wat u en u dienaars betref — ek weet dat julle nog nie ontsag het vir die Here God nie.

31. En die vlas en die gars was weggeslaan, want die gars was in die aar en die vlas in die knop.

32. Maar die koring en die spelt was nie weggeslaan nie, want hulle is later.

33. So het Moses dan uit die stad gegaan van Farao af weg en sy hande tot die Here uitgebrei. En die donder en hael het opgehou, en die reën het nie meer op die aarde gegiet nie.

Lees volledige hoofstuk Exodus 9