Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 7:1-10 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN die Here het aan Moses gesê: Kyk, Ek stel jou as ’n god vir Farao, en jou broer Aäron sal jou profeet wees.

2. Jý moet spreek alles wat Ek jou beveel, en jou broer Aäron moet met Farao spreek, sodat hy die kinders van Israel uit sy land laat uittrek.

3. En Ék sal Farao se hart verhard en my tekens en wonders in Egipteland vermenigvuldig.

4. Maar Farao sal na julle nie luister nie; en Ek sal my hand op Egipte lê en my leërskare, my volk, die kinders van Israel, deur groot strafgerigte uit Egipteland uitlei.

5. Dan sal die Egiptenaars weet dat Ek die Here is, as Ek my hand oor Egipte uitstrek en die kinders van Israel tussen hulle uitlei.

6. Moses en Aäron het toe gedoen soos die Here hulle beveel het; so het hulle gedoen.

7. En Moses was tagtig jaar en Aäron drie-en-tagtig jaar oud toe hulle met Farao gespreek het.

8. En die Here het Moses en Aäron aangespreek met die woorde:

9. As Farao met julle spreek en sê: Doen tog ’n wonderteken vir julleself — dan moet jy vir Aäron sê: Neem jou staf en gooi dit voor Farao neer; dan sal dit ’n slang word.

10. Toe het Moses en Aäron na Farao gegaan en gedoen net soos die Here hulle beveel het: Aäron het sy staf voor Farao en voor sy dienaars neergegooi, en dit het ’n slang geword.

Lees volledige hoofstuk Exodus 7