Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 5:1-10 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN daarna gaan Moses en Aäron en sê vir Farao: So spreek die Here, die God van Israel: Laat my volk trek, dat hulle vir My ’n fees kan hou in die woestyn.

2. Maar Farao antwoord: Wie is die Here na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek? Ek ken die Here nie, en ek sal Israel ook nie laat trek nie.

3. Toe sê hulle: Die God van die Hebreërs het ons ontmoet; laat ons tog drie dagreise ver die woestyn intrek en aan die Here onse God offer, sodat Hy ons nie tref met die pes of die swaard nie.

4. Maar die koning van Egipte antwoord hulle: Moses en Aäron, waarom hou julle die volk van hulle werk af? Loop na julle werk toe.

5. Verder het Farao gesê: Kyk, die volk van die land is alreeds baie; en julle wil hulle laat ophou met hulle werk?

6. Daarom het Farao dieselfde dag aan die drywers onder die volk en die opsigters bevel gegee en gesê:

7. Julle moet die volk geen strooi meer gee om bakstene te maak soos gister en eergister nie. Laat hulle self gaan en vir hulle strooi versamel.

8. Maar die hoeveelheid bakstene wat hulle gister en eergister gemaak het, moet julle hulle oplê en niks daarvan verminder nie; want hulle is lui. Daarom roep hulle en sê: Laat ons gaan, laat ons offer aan onse God!

9. Laat die werk swaar druk op die manne, dat hulle daarmee besig kan wees en nie op leuenagtige woorde let nie.

10. Toe het die drywers van die volk en die opsigters uitgegaan en tot die volk gespreek en gesê: So spreek Farao: Ek gee julle geen strooi nie.

Lees volledige hoofstuk Exodus 5