Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 40:9-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Dan moet jy die salfolie neem, en jy moet die tabernakel salf en alles wat daarin is, en dit heilig met alles wat daarby behoort; en dit sal heilig wees.

10. Jy moet ook die brandofferaltaar salf met al sy gereedskap, en jy moet die altaar heilig, en die altaar sal hoogheilig wees.

11. Salf dan die waskom en sy voetstuk, en heilig dit.

12. Jy moet ook Aäron en sy seuns laat nader kom, na die ingang van die tent van samekoms toe, en jy moet hulle met water was.

13. Trek Aäron dan die heilige klere aan; en salf hom en heilig hom, dat hy vir My die priesteramp kan bedien.

14. Jy moet ook sy seuns laat nader kom en hulle die rokke aantrek.

15. Salf hulle dan, soos jy hulle vader gesalf het, dat hulle vir My die priesteramp kan bedien. En hul salwing moet vir hulle ’n ewige priesterskap in hulle geslagte wees.

16. En Moses het gedoen net soos die Here hom beveel het; so het hy gedoen.

17. En in die eerste maand, in die tweede jaar, op die eerste van die maand, is die tabernakel opgerig.

18. En Moses het die tabernakel opgerig: hy het sy voetstukke neergesit en sy style daarop gesit en sy dwarshoute vasgemaak en sy pilare opgerig.

19. En hy het die tentseil oor die tabernakel gespan en die dekkleed van die tent daar bo-oor getrek, soos die Here Moses beveel het.

20. Verder het hy die Getuienis geneem en dit in die ark neergelê en die draaghoute aan die kant van die ark ingesteek, en die versoendeksel het hy bo-op die ark gesit.

21. Toe het hy die ark in die tabernakel gebring en die voorhangsel tot bedekking opgehang en die ark van die Getuienis bedek, soos die Here Moses beveel het.

Lees volledige hoofstuk Exodus 40