Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 39:22-33 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

22. En hy het die mantel van die skouerkleed van wewerswerk gemaak, heeltemal van pers stof.

23. En die opening van die mantel was in die middel daarvan soos die opening van ’n pantser; die opening het ’n soom rondom gehad, dat dit nie sou skeur nie.

24. En aan die soom van die mantel het hulle granaatjies gemaak van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne.

25. Hulle het ook klokkies van suiwer goud gemaak en die klokkies tussen die granaatjies gesit, aan die soom van die mantel rondom, tussen die granaatjies in:

26. ’n klokkie en ’n granaatjie, ’n klokkie en ’n granaatjie, aan die soom van die mantel rondom, vir die diens, soos die Here Moses beveel het.

27. Hulle het ook die rokke van fyn linne gemaak, van wewerswerk, vir Aäron en sy seuns;

28. en die tulband van fyn linne en die pronkmusse van fyn linne en die linnebroeke van fyn dubbeldraad-linne;

29. en die gordel van fyn dubbeldraad-linne en van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe, veelkleurige werk, soos die Here Moses beveel het.

30. Hulle het ook die plaat van die heilige kroon van suiwer goud gemaak en daarop geskrywe met letters soos dit op ’n seëlsteen uitgesny word: Heilig aan die Here.

31. En hulle het ’n pers toutjie daaraan vasgemaak om dit bo-op die tulband te bevestig, soos die Here Moses beveel het.

32. So is dan al die werk aan die tabernakel van die tent van samekoms voltooi; en die kinders van Israel het dit gemaak net soos die Here Moses beveel het; so het hulle dit gemaak.

33. En hulle het die tabernakel na Moses gebring, die tent self met alles wat daarby behoort, sy hakies, sy style, sy dwarshoute en sy pilare en sy voetstukke,

Lees volledige hoofstuk Exodus 39