Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 39:13-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. En die vierde ry: ’n chrisoliet, ’n oniks en ’n sardoniks; hulle is in kassies van goud vasgesit by hulle invulling.

14. En die stene was volgens die name van die kinders van Israel twaalf, volgens hulle name. Soos op ’n seëlsteen uitgesny word, was hulle vir twaalf stamme, elkeen volgens sy naam.

15. Hulle het ook by die borstas gedraaide kettings gemaak, soos toutjies gedraai, van suiwer goud;

16. en hulle het twee goue kassies en twee goue ringe gemaak, en die twee ringe aan die twee bo-ente van die borstas bevestig,

17. en hulle het die twee goue toutjies aan die twee ringe aan die bo-ente van die borstas vasgemaak.

18. Maar die twee ander ente van die twee toutjies het hulle aan die twee kassies vasgemaak en dié dan aan die skouerstukke van die skouerkleed bevestig, aan die voorkant daarvan.

19. Hulle het ook twee goue ringe gemaak en dié aan die twee onder-ente van die borstas bevestig, aan die kant wat teen die skouerkleed aan lê, aan die binnekant.

20. En hulle het twee goue ringe gemaak en dié aan die twee skouerstukke van die skouerkleed bevestig, onderaan, aan die voorkant daarvan, by sy verbinding, bo die band van die skouerkleed.

21. En hulle het die borstas, met sy ringe, aan die ringe van die skouerkleed met ’n pers toutjie vasgebind, sodat dit bo die band van die skouerkleed sou wees en die borstas nie van die skouerkleed kon afskuiwe nie, soos die Here Moses beveel het.

22. En hy het die mantel van die skouerkleed van wewerswerk gemaak, heeltemal van pers stof.

23. En die opening van die mantel was in die middel daarvan soos die opening van ’n pantser; die opening het ’n soom rondom gehad, dat dit nie sou skeur nie.

24. En aan die soom van die mantel het hulle granaatjies gemaak van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne.

25. Hulle het ook klokkies van suiwer goud gemaak en die klokkies tussen die granaatjies gesit, aan die soom van die mantel rondom, tussen die granaatjies in:

26. ’n klokkie en ’n granaatjie, ’n klokkie en ’n granaatjie, aan die soom van die mantel rondom, vir die diens, soos die Here Moses beveel het.

Lees volledige hoofstuk Exodus 39