Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 38:20-31 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

20. En al die penne vir die tabernakel en die voorhof rondom was van koper.

21. DIT is die berekening van die koste van die tabernakel, van die tabernakel van die Getuienis, soos dit bereken is op bevel van Moses, deur die diens van die Leviete, onder leiding van Ítamar, die seun van die priester Aäron.

22. En Besáleël, die seun van Uri, die seun van Hur, van die stam van Juda, het alles gemaak wat die Here Moses beveel het.

23. En saam met hom Ohóliab, die seun van Ahísamag, van die stam van Dan, ’n ambagsman en kunstenaar en kunswewer in pers en in purperrooi en in bloedrooi stowwe en in fyn linne.

24. Al die goud wat vir die werk gebruik is, by al die werk van die heiligdom — die goud wat as offer aangebied was, het bedra negen-en-twintig talente en sewehonderd-en-dertig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom.

25. En die silwer van die geteldes van die vergadering was honderd talente en duisend-sewehonderd-vyf-en-sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom;

26. ’n beka vir elke persoon, dit is ’n halfsikkel volgens die sikkel van die heiligdom, van elkeen wat oorgegaan het na die geteldes, van twintig jaar oud en daarbo, naamlik seshonderd-en-drieduisend-vyfhonderd-en-vyftig man.

27. En die honderd talente silwer het gedien om die voetstukke van die heiligdom en die voetstukke van die voorhangsel te giet; honderd voetstukke vir honderd talente, ’n talent vir ’n voetstuk.

28. Maar van die duisend-sewehonderd-vyf-en-sewentig sikkels het hy kramme vir die pilare gemaak, en hy het hulle toppe oorgetrek en hulle van ringe voorsien.

29. En die koper wat as offer aangebied was, het bedra sewentig talente en tweeduisend-vierhonderd sikkels.

30. En hy het daaruit die voetstukke van die ingang van die tent van samekoms gemaak en die koperaltaar en sy kopertraliewerk en al die gereedskap van die altaar;

31. en die voetstukke van die voorhof rondom en die voetstukke van die poort van die voorhof en al die penne van die tabernakel, ook al die penne van die voorhof rondom.

Lees volledige hoofstuk Exodus 38