Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 35:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. TOE het Moses die hele vergadering van die kinders van Israel bymekaar laat kom en aan hulle gesê: Dit is die woorde wat die Here beveel het, om dit te doen:

2. Ses dae lank kan daar werk verrig word, maar op die sewende dag moet daar vir julle ’n heiligheid, ’n dag van volkome rus wees tot eer van die Here. Elkeen wat daarop werk verrig, moet gedood word.

3. Julle mag op die sabbat geen vuur aansteek in enigeen van julle woonplekke nie.

4. Verder het Moses die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: Dít is die saak wat die Here beveel het:

5. Neem van julle besittings ’n offergawe aan die Here. Laat elkeen wat gewillig is in sy hart, dit bring, die offergawe van die Here: goud en silwer en koper;

6. en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar;

7. en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle en akasiahout;

8. en olie vir die kandelaar en speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye;

9. en oniksstene en stene om in te lê, vir die skouerkleed en die borstas.

10. En almal wat kunsvaardig is onder julle, moet kom en alles maak wat die Here beveel het:

11. die tabernakel, sy tent en sy dekkleed, sy hakies en sy style, sy dwarshoute, sy pilare en sy voetstukke;

12. die ark en sy draaghoute, die versoendeksel en die voorhangsel tot bedekking;

13. die tafel met sy draaghoute en al sy gereedskap, en die toonbrode;

Lees volledige hoofstuk Exodus 35