Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 34:24-35 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

24. Want Ek sal nasies voor jou uitdrywe en jou grondgebied uitbrei, sodat niemand jou land sal begeer nie terwyl jy opgaan om te verskyn voor die aangesig van die Here jou God, drie maal in die jaar.

25. Jy mag die bloed van my offer nie saam met gesuurde brood slag nie, en die offer van die paasfees mag nie tot die môre toe oorbly nie.

26. Die beste van die eerstelinge van jou grond moet jy in die huis van die Here jou God bring. Jy mag die bokkie nie kook in sy moeder se melk nie.

27. Verder het die Here vir Moses gesê: Skrywe vir jou hierdie woorde op, want volgens hierdie woorde het Ek ’n verbond gesluit met jou en met Israel.

28. En hy was daar by die Here veertig dae en veertig nagte; hy het geen brood geëet en geen water gedrink nie. En Hy het op die tafels die woorde van die verbond, die tien woorde, geskrywe.

29. En toe Moses van die berg Sinai afdaal — die twee tafels van die Getuienis was in die hand van Moses toe hy van die berg afdaal — het Moses nie geweet dat die vel van sy gesig blink omdat hy met Hom gespreek het nie.

30. En toe Aäron en al die kinders van Israel Moses sien, het die vel van sy gesig geblink! Daarom was hulle bevrees om naby hom te kom.

31. Maar Moses het hulle geroep, en Aäron en al die owerstes in die vergadering het na hom teruggekom; en Moses het met hulle gespreek.

32. En daarna het al die kinders van Israel nader gekom, en hy het hulle alles beveel wat die Here met hom gespreek het op die berg Sinai.

33. Toe Moses klaar met hulle gespreek het, het hy ’n sluier oor sy gesig getrek.

34. Maar as Moses voor die aangesig van die Here kom om met Hom te spreek, neem hy die sluier weg, totdat hy uitgaan. As hy dan uitgaan en aan die kinders van Israel meedeel wat hom beveel is,

35. sien die kinders van Israel die gesig van Moses, dat die vel van Moses se gesig blink; daarop trek Moses dan weer die sluier oor sy gesig, totdat hy ingaan om met Hom te spreek.

Lees volledige hoofstuk Exodus 34