Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 34:14-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. Want jy mag jou nie neerbuig voor ’n ander god nie; want die Here se Naam is Jaloers — ’n jaloerse God is Hy.

15. Sluit tog nie ’n verbond met die inwoner van die land nie! As hulle agter hulle gode aan hoereer en aan hulle gode offer, sal hy jou uitnooi, en jy sal van sy offer eet;

16. en jy sal van sy dogters neem vir jou seuns, en sy dogters sal agter hulle gode aan hoereer en jou seuns agter hulle gode aan laat hoereer.

17. Jy mag vir jou geen gegote gode maak nie.

18. Die fees van die ongesuurde brode moet jy hou; sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die bepaalde tyd in die maand Abib; want in die maand Abib het jy uit Egipte uitgetrek.

19. Alles wat die moederskoot open, is myne; ook al jou vee wat manlik is, die eerstelinge van beeste en kleinvee.

20. Maar die eersteling van ’n esel moet jy met ’n lam loskoop; en as jy dit nie loskoop nie, moet jy sy nek breek. Al jou eersgebore seuns moet jy loskoop, en niemand mag met leë hande voor my aangesig verskyn nie.

21. Ses dae moet jy arbei, maar op die sewende dag moet jy rus. In die ploegtyd en in die oestyd moet jy rus.

22. Die fees van die weke moet jy ook hou, die fees van die eerstelinge van die koringoes; en die fees van die insameling by die wisseling van die jaar.

23. Al jou manspersone moet drie maal in die jaar voor die aangesig van die Here Here, die God van Israel, verskyn.

24. Want Ek sal nasies voor jou uitdrywe en jou grondgebied uitbrei, sodat niemand jou land sal begeer nie terwyl jy opgaan om te verskyn voor die aangesig van die Here jou God, drie maal in die jaar.

25. Jy mag die bloed van my offer nie saam met gesuurde brood slag nie, en die offer van die paasfees mag nie tot die môre toe oorbly nie.

26. Die beste van die eerstelinge van jou grond moet jy in die huis van die Here jou God bring. Jy mag die bokkie nie kook in sy moeder se melk nie.

Lees volledige hoofstuk Exodus 34