Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 32:7-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Toe sê die Here vir Moses: Gaan heen, klim af, want jou volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, het verderflik gehandel.

8. En hulle het gou van die weg afgewyk wat Ek hulle beveel het. Hulle het vir hulle ’n gegote kalf gemaak en daarvoor neergebuig en daaraan geoffer en gesê: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.

9. Verder het die Here vir Moses gesê: Ek het hierdie volk gesien, en kyk, dit is ’n hardnekkige volk.

10. Laat My dan nou begaan, dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer. Dan sal Ek jou tot ’n groot nasie maak.

11. Maar Moses het die Here sy God om genade gesmeek en gesê: Waarom, o Here, sou u toorn ontvlam teen u volk wat U met grote krag en met ’n sterke hand uit Egipteland uitgelei het?

12. Waarom sou die Egiptenaars spreek en sê: In kwaadwilligheid het Hy hulle uitgelei om hulle in die berge om te bring en hulle van die aardbodem af te vernietig? Wend U af van die gloed van u toorn, en laat dit U berou oor die onheil van u volk.

13. Gedenk aan Abraham, Isak en Israel, u knegte, vir wie U by Uself gesweer en aan wie U gesê het: Ek sal julle nageslag vermenigvuldig soos die sterre van die hemel, en hierdie hele land waarvan Ek gespreek het, sal Ek aan julle nageslag gee, dat hulle dit vir ewig kan beërwe.

14. Toe het dit die Here berou oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy sy volk sou aandoen.

15. En Moses het omgedraai en van die berg afgeklim, met die twee tafels van die Getuienis in sy hand, tafels wat op altwee kante beskrywe was; hulle was op die een en op die ander kant beskrywe.

16. En die tafels was die werk van God. Die skrif was ook die skrif van God, in die tafels gegraveer.

17. En toe Josua die stem van die volk hoor hoe hulle juig, sê hy aan Moses: Daar is oorlogsgeraas in die laer.

18. Maar hy antwoord: Dit is nie die geluid van die wat sing van oorwinning nie; dit is ook nie die geluid van die wat sing van neerlaag nie: ek hoor die geluid van beurtgesang.

Lees volledige hoofstuk Exodus 32