Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 32:2-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. En Aäron sê vir hulle: Ruk die goue ringe af wat aan die ore van julle vroue, julle seuns en julle dogters is, en bring dit vir my.

3. Toe het die hele volk die goue ringe afgeruk wat aan hulle ore was, en dit na Aäron gebring.

4. En hy het dit uit hulle hand geneem en dit met die beitel bewerk en daar ’n gegote kalf van gemaak. Daarop sê hulle: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.

5. Toe Aäron dit sien, het hy daarvoor ’n altaar gebou. En Aäron het uitgeroep en gesê: Môre is daar fees tot eer van die Here.

6. En hulle het die ander dag vroeg klaargemaak en brandoffers geoffer en dankoffers aangebring; daarop het die volk gaan sit om te eet en te drink, en hulle het opgestaan om te speel.

7. Toe sê die Here vir Moses: Gaan heen, klim af, want jou volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, het verderflik gehandel.

8. En hulle het gou van die weg afgewyk wat Ek hulle beveel het. Hulle het vir hulle ’n gegote kalf gemaak en daarvoor neergebuig en daaraan geoffer en gesê: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.

9. Verder het die Here vir Moses gesê: Ek het hierdie volk gesien, en kyk, dit is ’n hardnekkige volk.

10. Laat My dan nou begaan, dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer. Dan sal Ek jou tot ’n groot nasie maak.

11. Maar Moses het die Here sy God om genade gesmeek en gesê: Waarom, o Here, sou u toorn ontvlam teen u volk wat U met grote krag en met ’n sterke hand uit Egipteland uitgelei het?

12. Waarom sou die Egiptenaars spreek en sê: In kwaadwilligheid het Hy hulle uitgelei om hulle in die berge om te bring en hulle van die aardbodem af te vernietig? Wend U af van die gloed van u toorn, en laat dit U berou oor die onheil van u volk.

13. Gedenk aan Abraham, Isak en Israel, u knegte, vir wie U by Uself gesweer en aan wie U gesê het: Ek sal julle nageslag vermenigvuldig soos die sterre van die hemel, en hierdie hele land waarvan Ek gespreek het, sal Ek aan julle nageslag gee, dat hulle dit vir ewig kan beërwe.

14. Toe het dit die Here berou oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy sy volk sou aandoen.

15. En Moses het omgedraai en van die berg afgeklim, met die twee tafels van die Getuienis in sy hand, tafels wat op altwee kante beskrywe was; hulle was op die een en op die ander kant beskrywe.

16. En die tafels was die werk van God. Die skrif was ook die skrif van God, in die tafels gegraveer.

Lees volledige hoofstuk Exodus 32