Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 28:11-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Met graveerwerk, soos op ’n seëlsteen uitgesny word, moet jy die twee stene graveer volgens die name van die kinders van Israel. Jy moet hulle maak dat hulle vassit in kassies van goud.

12. En jy moet die twee stene op die skouerstukke van die skouerkleed bevestig as gedagtenisstene vir die kinders van Israel — Aäron moet hulle name op sy twee skouers dra voor die aangesig van die Here om hulle in gedagtenis te bring.

13. Jy moet dan kassies van goud maak

14. en twee kettings van suiwer goud; gedraai soos toutjies moet jy hulle maak; en maak die kettings, soos toutjies gedraai, aan die kassies vas.

15. Jy moet ook die borstas van beslissing maak van kunstige werk; soos die werk van die skouerkleed moet jy dit maak; van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en van fyn dubbeldraad-linne moet jy dit maak.

16. Vierkantig moet dit wees en dubbel gevou; ’n span sy lengte en ’n span sy breedte.

17. En voorsien dit van ’n steeninvulling van vier rye stene: ’n ry met ’n karneool, ’n topaas en ’n smarag moet die eerste ry wees.

18. En die tweede ry: ’n karbonkel, ’n saffier en ’n jaspis.

19. En die derde ry: ’n hiasint, ’n agaat en ’n ametis.

20. En die vierde ry: ’n chrisoliet en ’n oniks en ’n sardoniks. Hulle moet in goud vasgesit wees by hulle invulling.

21. En die stene moet volgens die name van die kinders van Israel twaalf wees, volgens hulle name. Soos op ’n seëlsteen uitgesny word, so moet hulle vir twaalf stamme wees, elkeen volgens sy naam.

22. Jy moet ook by die borstas gedraaide kettings, soos toutjies gedraai, van suiwer goud maak.

23. En maak by die borstas twee goue ringe; en bevestig die twee ringe aan die twee bo-ente van die borstas,

24. en maak die twee goue toutjies aan die twee ringe vas, aan die bo-ente van die borstas;

Lees volledige hoofstuk Exodus 28