Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 26:1-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN die tabernakel moet jy van tien tentdoeke maak, van fyn dubbeldraad-linne en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe, met gérubs; as kunstige werk moet jy dit maak.

2. Die lengte van elke tentdoek moet agt-en-twintig el wees en die breedte van elke tentdoek vier el. Al die tentdoeke moet een maat hê.

3. Vyf van die tentdoeke moet aanmekaargewerk wees, die een aan die ander. En weer vyf tentdoeke aanmekaar, die een aan die ander.

4. En jy moet lissies van pers stof maak aan die soom van die buitenste tentdoek van die een stel. En so moet jy dit maak aan die soom van die laaste tentdoek van die tweede stel.

5. Vyftig lissies moet jy aan die een tentdoek maak, en vyftig lissies moet jy maak aan die rand van die tentdoek wat aan die tweede stel behoort. Die lissies moet die een teenoor die ander wees.

6. Jy moet ook vyftig goue hakies maak en die tentdoeke saamvoeg met die hakies, die een aan die ander, sodat die tabernakel een geheel is.

7. Ook moet jy doeke van bokhaar maak as ’n tentseil oor die tabernakel: elf tentdoeke moet jy dit maak.

8. Die lengte van elke tentdoek moet dertig el wees en die breedte van elke tentdoek vier el: die elf tentdoeke moet een maat hê.

9. En jy moet vyf van die tentdoeke besonders aanmekaarwerk en ses van die tentdoeke besonders. En die sesde tentdoek moet jy dubbel vou, aan die voorkant van die tent.

10. En jy moet vyftig lissies maak aan die soom van die laaste tentdoek van die een stel, en vyftig lissies aan die soom van die laaste tentdoek van die tweede stel.

11. Jy moet ook vyftig koperhakies maak en die hakies in die lissies steek; en jy moet die tent saamvoeg, sodat dit een geheel is.

12. En wat betref die oorhangende gedeelte aan die tentdoeke — die helfte van die tentdoek wat oorskiet, moet oorhang aan die agterkant van die tabernakel.

13. En die el wat aan weerskante oorskiet in die lengte van die tentdoeke, moet oorhang aan die sykante van die tabernakel, aan weerskante, om dit te oordek.

14. Jy moet ook vir die tent ’n dekkleed van rooigeverfde ramsvelle maak en ’n dekkleed van robbevelle daar bo-oor.

15. JY moet ook vir die tabernakel die regopstaande style van akasiahout maak.

Lees volledige hoofstuk Exodus 26