Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 22:14-30 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. En as iemand van sy naaste iets te leen vra, en dit kry ’n ongeluk of gaan dood terwyl die eienaar daar nie by is nie, moet hy ten volle vergoeding gee.

15. As die eienaar daarby gewees het, hoef hy geen vergoeding te gee nie. As dit gehuur was, kom die huurgeld daarvoor.

16. As iemand ’n jongmeisie wat nie verloof is nie, verlei en met haar gemeenskap het, moet hy haar vir die volle huweliksprys as sy vrou koop.

17. As haar vader beslis weier om haar aan hom te gee, moet hy geld gee volgens die huweliksprys vir jongmeisies.

18. Die towerheks mag jy nie laat lewe nie.

19. Elkeen wat met ’n dier gemeenskap het, moet sekerlik gedood word.

20. Hy wat aan die gode offer, behalwe aan die Here alleen, moet met die banvloek getref word.

21. Jy mag ook die vreemdeling nie kwel of hom verdruk nie, want julle was vreemdelinge in Egipteland.

22. Julle mag geen weduwee of wees verdruk nie.

23. As jy hulle op enige manier verdruk, waarlik, dan sal Ek, as hulle na My roep, hulle geroep sekerlik hoor,

24. en my toorn sal ontvlam, en Ek sal julle met die swaard ombring, sodat julle vroue weduwees en julle kinders wese word.

25. As jy aan my volk, aan die arme by jou, geld leen, mag jy vir hom nie soos ’n skuldeiser wees nie: julle mag hom geen rente oplê nie.

26. As jy ooit jou naaste se gewaad as pand neem, moet jy hom dit teruggee voor die son ondergaan;

27. want dit is sy enigste bedekking, dit is die bekleding vir sy vel. Waarin moet hy anders slaap? En as hy na My roep, sal Ek hoor, want Ek is genadig.

28. Jy mag God nie vloek nie, en ’n owerste onder jou volk mag jy nie verwens nie.

29. Die offer uit jou volle opbrings en jou parskuip mag jy nie terughou nie. Die eersgeborene van jou seuns moet jy aan My gee.

30. Jy moet dieselfde doen met jou beeste en jou kleinvee: sewe dae moet dit by sy moeder wees; op die agtste dag moet jy dit aan My gee.

Lees volledige hoofstuk Exodus 22