Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 2:15-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. En toe Farao van dié saak hoor, het hy probeer om Moses dood te maak. Maar Moses het van Farao af weggevlug en in die land Mídian gaan woon. En hy het by ’n put gesit.

16. En die priester van Mídian het sewe dogters gehad: dié het gekom om te put en die drinkbakke vol te maak om hulle vader se kleinvee te laat drink.

17. Maar die veewagters het gekom en hulle weggedrywe. Toe staan Moses op en help hulle en laat hulle vee drink.

18. En toe hulle by hul vader Réhuel kom, sê hy: Waarom kom julle vandag so gou?

19. En hulle antwoord: ’n Egiptiese man het ons uit die hand van die veewagters verlos; en hy het ook volop vir ons geput en die vee laat drink.

20. Daarop sê hy vir sy dogters: En waar is hy? Waarom het julle die man dan daar laat staan? Roep hom, dat hy brood kan eet.

21. En Moses het ingewillig om by die man te bly, en hy het aan Moses sy dogter Sippóra gegee.

22. En toe sy ’n seun baar, het hy hom Gersom genoem. Want hy het gesê: Ek het ’n vreemdeling in ’n vreemde land geword.

23. En in daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe. En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God.

24. En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob.

25. En God het die kinders van Israel aangesien, en God het hulle geken.

Lees volledige hoofstuk Exodus 2