Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 19:5-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne.

6. En júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel moet meedeel.

7. En Moses het gekom en die oudstes van die volk laat roep en hulle al hierdie woorde voorgehou wat die Here hom beveel het.

8. Toe antwoord die hele volk eenparig en sê: Alles wat die Here gespreek het, sal ons doen. En Moses het die woorde van die volk aan die Here oorgebring.

9. En die Here het met Moses gespreek: Kyk, Ek sal in ’n dik wolk na jou toe kom, dat die volk kan hoor as Ek met jou spreek, en hulle ook vir altyd aan jóú kan glo. Want Moses het die woorde van die volk aan die Here meegedeel.

10. Verder het die Here aan Moses gesê: Gaan na die volk en heilig hulle vandag en môre, en laat hulle hul klere was

11. en hulle gereed hou teen die derde dag. Want op die derde dag sal die Here voor die oë van die hele volk op die berg Sinai afdaal.

12. Ook moet jy vir die volk ’n grens rondom aanwys en sê: Pas op dat julle nie op die berg klim of sy voet aanraak nie. Elkeen wat die berg aanraak, moet sekerlik gedood word.

13. Geen hand mag hom aanraak nie; maar hy moet sekerlik gestenig of sekerlik met ’n pyl geskiet word; of dit ’n dier of ’n mens is — hy mag nie lewe nie. As die ramshoring lang geluide blaas, mag hulle op die berg klim.

14. Toe het Moses van die berg af na die volk gegaan en die volk geheilig, en hulle het hul klere gewas.

15. En hy het aan die volk gesê: Hou julle klaar teen die derde dag; moenie naby die vrou kom nie.

16. En op die derde dag toe dit môre word, was daar donderslae en blitse en ’n swaar wolk op die berg en die geluid van ’n baie sterk basuin, sodat die hele volk wat in die laer was, gebeef het.

17. Daarop het Moses die volk uit die laer gelei om God te ontmoet, en hulle het gaan staan by die voet van die berg.

18. En die hele berg Sinai het gerook, omdat die Here in ’n vuur daarop neergedaal het. En sy rook het opgetrek soos die rook van ’n oond, en die hele berg het vreeslik gebewe.

19. Toe die geluid van die basuin sterker en sterker word, het Moses gespreek, en God het hom telkens hardop geantwoord.

20. Terwyl die Here op die berg Sinai neerdaal, op die top van die berg, het die Here Moses na die top van die berg geroep, en Moses het opgeklim.

21. En die Here het vir Moses gesê: Klim af, waarsku die volk, dat hulle nie na die Here toe deurbreek om te sien en baie van hulle dan val nie.

Lees volledige hoofstuk Exodus 19