Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 19:3-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. Maar Moses het opgeklim na God toe, en die Here het hom van die berg af toegeroep en gesê: So moet jy aan die huis van Jakob sê en aan die kinders van Israel verkondig:

4. Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het.

5. As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne.

6. En júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel moet meedeel.

7. En Moses het gekom en die oudstes van die volk laat roep en hulle al hierdie woorde voorgehou wat die Here hom beveel het.

8. Toe antwoord die hele volk eenparig en sê: Alles wat die Here gespreek het, sal ons doen. En Moses het die woorde van die volk aan die Here oorgebring.

9. En die Here het met Moses gespreek: Kyk, Ek sal in ’n dik wolk na jou toe kom, dat die volk kan hoor as Ek met jou spreek, en hulle ook vir altyd aan jóú kan glo. Want Moses het die woorde van die volk aan die Here meegedeel.

10. Verder het die Here aan Moses gesê: Gaan na die volk en heilig hulle vandag en môre, en laat hulle hul klere was

11. en hulle gereed hou teen die derde dag. Want op die derde dag sal die Here voor die oë van die hele volk op die berg Sinai afdaal.

12. Ook moet jy vir die volk ’n grens rondom aanwys en sê: Pas op dat julle nie op die berg klim of sy voet aanraak nie. Elkeen wat die berg aanraak, moet sekerlik gedood word.

13. Geen hand mag hom aanraak nie; maar hy moet sekerlik gestenig of sekerlik met ’n pyl geskiet word; of dit ’n dier of ’n mens is — hy mag nie lewe nie. As die ramshoring lang geluide blaas, mag hulle op die berg klim.

14. Toe het Moses van die berg af na die volk gegaan en die volk geheilig, en hulle het hul klere gewas.

Lees volledige hoofstuk Exodus 19