Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 15:9-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Die vyand het gesê: Ek sal agtervolg, inhaal, buit verdeel, my begeerte sal versadig word van hulle; ek sal my swaard trek, my hand sal hulle uitroei.

10. U het met u asem geblaas: die see het hulle oordek; soos lood het hulle gesink in die geweldige waters.

11. o Here, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen?

12. U het u regterhand uitgestrek, die aarde het hulle verslind.

13. U het deur u guns die volk gelei wat U verlos het; U het hulle deur u krag na u heilige woning gevoer.

14. Die volke het dit gehoor, hulle het gesidder; weë het die inwoners van Filistéa aangegryp.

15. Toe is die stamhoofde van Edom verskrik, bewing het die magtiges van Moab aangegryp. Al die inwoners van Kanaän het gebewe.

16. Verskrikking en vrees het op hulle geval; deur die grootheid van u arm was hulle stom soos ’n klip, terwyl u volk deurtrek, Here, terwyl die volk deurtrek wat U verwerf het.

17. U bring hulle in en plant hulle op die bergland van u erfenis, die plek, o Here, wat U as vaste woonplek vir U berei het, die heiligdom wat u hande gestig het, o Here!

18. Die Here sal regeer vir ewig en altoos.

19. Want Farao se perd, met sy strydwaens en sy ruiters, het in die see ingegaan, en die Here het die waters van die see oor hulle laat terugkom. Maar die kinders van Israel het binne-in die see op droë grond getrek.

20. En Mirjam, die profetes, die suster van Aäron, het ’n tamboeryn in haar hand geneem; en al die vroue het uitgegaan agter haar aan, met tamboeryne en in koordanse.

21. En Mirjam het hulle al singende geantwoord: Sing tot eer van die Here, want Hy is hoog verhewe. Hy het die perd met sy ruiter in die see gewerp.

22. DAAROP het Moses die Israeliete laat wegtrek van die Skelfsee af, en hulle het uitgetrek na die woestyn Sur. Hulle het toe drie dae lank in die woestyn getrek en geen water gekry nie.

Lees volledige hoofstuk Exodus 15