Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 14:20-31 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

20. so het dit dan tussen die leër van die Egiptenaars en die leër van Israel in gekom. En die wolk was daar met die duisternis, en dit het die nag verlig, sodat die een nie naby die ander gekom het die hele nag deur nie.

21. Toe steek Moses sy hand oor die see uit, en die Here het deur ’n sterk oostewind die see laat wegvloei, die hele nag deur, en die see droog gemaak; en die waters is gekloof.

22. En die kinders van Israel het midde-in die see getrek op droë grond. En die waters was vir hulle ’n muur aan hul regter — en aan hul linkerkant.

23. Toe het die Egiptenaars hulle gejaag en agter hulle aan getrek — al Farao se perde, sy strydwaens en sy ruiters — die see in.

24. En in die môrewaak het die Here, in die vuur — en wolkkolom, op die leër van die Egiptenaars afgekyk en die leër van die Egiptenaars in verwarring gebring.

25. En Hy het die wiele van hulle strydwaens laat insak en hulle met moeite laat voortgaan. Toe sê die Egiptenaars: Laat ons van Israel af wegvlug, want die Here stry vir hulle teen die Egiptenaars.

26. Daarop sê die Here vir Moses: Steek jou hand uit oor die see, dat die waters kan terugvloei oor die Egiptenaars, oor hulle strydwaens en oor hulle ruiters.

27. En Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die see het teen dagbreek in sy bedding teruggevloei, en die Egiptenaars het dit tegemoet gevlug. So het die Here dan die Egiptenaars binne-in die see gestort.

28. En toe die waters terugvloei, het hulle die strydwaens en die ruiters van Farao se hele leërmag wat agter hulle die see ingetrek het, oordek. Geeneen van hulle het oorgebly nie.

29. Maar die kinders van Israel het binne-in die see op droë grond getrek. En die waters was vir hulle ’n muur aan hul regter — en aan hul linkerkant.

30. So het die Here Israel dan dié dag uit die hand van die Egiptenaars verlos. En Israel het die Egiptenaars dood gesien aan die kant van die see.

31. Ook het Israel die magtige daad gesien wat die Here aan die Egiptenaars verrig het. Toe het die volk die Here gevrees en geglo in die Here en aan Moses, sy kneg.

Lees volledige hoofstuk Exodus 14