Ou Testament

Nuwe Testament

Exodus 10:1-8 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. VERDER het die Here vir Moses gesê: Gaan na Farao toe, want Ék het sy hart verhard, ook die hart van sy dienaars, sodat Ek hierdie tekens van My onder hulle kan verrig,

2. en dat jy voor die ore van jou kind en jou kindskind kan vertel wat Ek Egipte aangedoen het, en my tekens wat Ek onder hulle gedoen het, dat julle kan weet dat Ek die Here is.

3. Toe gaan Moses en Aäron na Farao, en hulle sê vir hom: So spreek die Here, die God van die Hebreërs: Hoe lank weier jy om jou voor My te verootmoedig? Laat my volk trek, dat hulle My kan dien.

4. Want as jy weier om my volk te laat trek, kyk, dan bring Ek môre sprinkane in jou grondgebied,

5. en hulle sal die oppervlakte van die land oordek, sodat ’n mens die land nie sal kan sien nie. En hulle sal die oorblyfsel afeet van wat gered is, wat vir julle van die hael oorgebly het; en al die bome wat vir julle uit die veld opgroei, sal hulle afeet.

6. En jou huise en die huise van al jou dienaars en die huise van al die Egiptenaars sal vol van hulle wees — soos jou vaders en die vaders van jou vaders nie gesien het van die dag af dat hulle op die aarde gewees het tot vandag toe nie. Daarop het hy omgedraai en van Farao af weggegaan.

7. Toe vra Farao se dienaars vir hom: Hoe lank sal die man vir ons ’n strik wees? Laat die manne trek, dat hulle die Here hulle God kan dien. Weet u nog nie dat Egipte te gronde gaan nie?

8. Daarop bring hulle Moses en Aäron na Farao terug, en hy sê vir hulle: Gaan heen, dien die Here julle God. Wie is dit eintlik wat wil gaan?

Lees volledige hoofstuk Exodus 10