Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 7:3-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. Nou is die einde oor jou, en Ek sal my toorn teen jou uitstuur en jou oordeel volgens jou weë en al jou gruwels op jou laat neerkom;

4. en my oog sal jou nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie, maar Ek sal jou wandel op jou laat neerkom, en jou gruwels sal in jou midde wees; en julle sal weet dat Ek die Here is.

5. So sê die Here Here: Onheil op onheil, kyk, dit kom!

6. ’n Einde kom, die einde kom, dit word wakker teen jou; kyk, dit kom!

7. Die lotsverandering kom teen jou, inwoner van die land! Die tyd kom, die dag is naby! Rumoer en geen vreugdegeroep op die berge nie!

8. Nou sal Ek binnekort my grimmigheid oor jou uitgiet en my toorn teen jou laat uitwoed en jou oordeel volgens jou weë en al jou gruwels op jou laat neerkom.

9. En my oog sal nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie; Ek sal dit op jou laat neerkom volgens jou weë, en jou gruwels sal in jou midde wees; en julle sal weet dat Ek die Here is wat slaan.

10. Kyk, die dag, kyk, hy kom! Die lotsverandering het uitgegaan, die roede het gebloei, die trotsheid het uitgespruit.

11. Die geweld het opgegroei tot ’n roede van goddeloosheid; niks van hulle sal oorbly nie of van hulle menigte of van hulle gedruis, en niks heerliks sal aan hulle wees nie.

12. Die tyd het gekom, die dag is naby; laat die koper nie bly wees nie en die verkoper nie treur nie; want toorngloed is daar oor die hele menigte van die land.

13. Want die verkoper sal nie teruggaan na wat verkoop is nie — ook as hy nog in die lewe is; want die gesig aangaande die hele menigte van die land sal nie herroep word nie, en niemand sal homself deur sy ongeregtigheid in sy lewenskrag versterk nie.

14. Hulle blaas met die trompet en maak alles klaar, maar niemand trek na die oorlog toe nie; want my toorngloed is oor die hele menigte van die land.

15. Die swaard buite, en die pes en die hongersnood binne; hy wat in die veld is, sal deur die swaard sterwe; en hy wat in die stad is, hom sal die hongersnood en die pes verteer.

16. En die wat uit hulle ontvlug, sal ontvlug; maar hulle sal op die berge wees soos duiwe van die klowe wat almal klaag, elkeen vanweë sy ongeregtigheid.

17. Almal se hande sal slap word, en almal se knieë sal wegvloei soos water.

18. Ook sal hulle rouklere aangord, en angs sal hulle oordek; en oor al die aangesigte sal skaamte wees en op al hulle hoofde ’n kaalte.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 7