Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 45:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN as julle die land as erflike besitting verdeel, moet julle ’n offergawe aan die Here afgee, ’n heilige plek uit die land; aangaande die lengte: vyf-en-twintigduisend el die lengte, en die breedte: twintigduisend; dit moet in sy hele omvang rondom heilig wees.

2. Hiervan moet vir die heiligdom wees vyfhonderd by vyfhonderd el, ’n vierkant rondom; en dit moet ’n oop veld hê van vyftig el rondom.

3. En van dié stuk wat afgemeet is, moet jy meet ’n lengte van vyf-en-twintigduisend el, en ’n breedte van tienduisend; en daarin moet die heiligdom, die Allerheiligste, lê.

4. Dit moet die heilige plek wees uit die land; dit moet wees vir die priesters wat die heiligdom bedien, wat nader kom om die Here te dien; en dit moet vir hulle dien as ruimte vir huise en ’n heiligdom vir die heiligdom.

5. En vyf-en-twintigduisend el in lengte en tienduisend in breedte moet die stuk vir die Leviete, die dienaars van die huis, wees — ’n besitting vir hulle, as stede om in te woon.

6. En as besitting van die stad moet julle gee ’n breedte van vyfduisend en ’n lengte van vyf-en-twintigduisend el langs die heilige offergawe; vir die hele huis van Israel moet dit wees.

7. En vir die vors: aan weerskante van die heilige offergawe en van die stadsbesitting, langs die heilige offergawe en langs die stadsbesitting, aan die westekant na die weste en aan die oostekant na die ooste; en die lengte moet wees ooreenkomstig een van die stamgedeeltes, van die westelike grens na die oostelike grens.

8. Aangaande die grond, dit sal aan hom behoort as besitting in Israel, en my vorste sal my volk nie meer verdruk nie, maar aan die huis van Israel die land oorlaat volgens hulle stamme.

9. So sê die Here Here: Dit is nou genoeg, o vorste van Israel! Verwyder geweld en verdrukking, en doen reg en geregtigheid; hou op om my volk uit hulle besittings te verdring, spreek die Here Here.

10. Julle moet ’n regte weegskaal hê en ’n regte efa en ’n regte bat.

11. ’n Efa en ’n bat moet ’n vaste maat hê, sodat ’n bat die tiende van ’n homer bevat; ook ’n efa die tiende van ’n homer; die reëling daarvan moet wees volgens die homer.

12. En die sikkel moet twintig gera wees; twintig sikkels, vyf-en-twintig sikkels, vyftien sikkels moet vir julle ’n mine wees.

13. Dit is die offergawe wat julle moet afgee: die sesde van ’n efa van ’n homer koring; ook die sesde van ’n efa van ’n homer gars.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 45