Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 40:4-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. En die man het met my gespreek: Mensekind, kyk met jou oë en hoor met jou ore en gee ag op alles wat ek jou sal laat sien; want om jou dit te laat sien, is jy hierheen gebring. Verkondig aan die huis van Israel alles wat jy sien.

5. En kyk, daar was ’n muur aan die buitekant van die huis al rondom, en in die man se hand was die meetroede van ses el (elkeen was ’n el en ’n handbreedte); en hy het die dikte van die bouwerk gemeet: een roede, en die hoogte: een roede.

6. Toe het hy gekom by ’n poort waarvan die voorkant na die ooste lê, en hy het met sy trappe opgegaan en die drumpel van die poort gemeet: een roede die breedte, en die ander drumpel: een roede die breedte.

7. En elke sykamer: een roede die lengte en een roede die breedte; en tussen die sykamers: vyf el; en die drumpel van die poort langs die voorportaal van die poort aan die binnekant: een roede.

8. Ook het hy die voorportaal van die poort aan die binnekant gemeet: een roede.

9. Toe het hy die voorportaal van die poort gemeet: agt el, en sy deurposte: twee el; die voorportaal van die poort was aan die binnekant.

10. En die sykamers van die poort na die ooste was drie aan die een en drie aan die ander kant; al drie het dieselfde afmeting gehad; ook het die deurposte aan weerskante dieselfde afmeting gehad.

11. Verder het hy die wydte van die poortingang gemeet: tien el; die lengte van die poort: dertien el.

12. En daar was ’n afskorting voor die sykamers van een el aan die een kant, en ’n afskorting van een el aan die ander kant; en elke kamer was ses el aan die een, en ses el aan die ander kant.

13. Toe het hy die poort gemeet van die dak van die een sykamer af na die dak van die ander toe: die breedte was vyf-en-twintig el, deur teenoor deur.

14. Ook het hy die deurposte gemaak; sestig el; en die voorhof, al rondom die poort, het gekom tot by die deurposte.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 40