Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 38:11-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. en sê: Ek sal optrek teen die land wat ooplê, ek sal kom by rustige mense wat in veiligheid woon; wat almal woon sonder muur en geen grendel of poorte het nie;

12. om buit te maak en roof te rowe, om jou hand uit te steek teen die puinhope wat weer bewoon is, en teen ’n volk wat uit die nasies versamel is, wat vee en goed verwerf het, wat op die middelpunt van die aarde woon.

13. Skeba en Dedan en die koopmans van Tarsis en al sy jong leeus sal vir jou sê: Kom jy om buit te maak? Het jy jou menigte bymekaar laat kom om roof te rowe? Om silwer en goud weg te dra, om vee en goed weg te neem, om ’n groot buit te maak?

14. Daarom, profeteer, o mensekind, en sê aan Gog: So spreek die Here Here: Sal jy dit nie opmerk in dié dag as my volk Israel veilig woon nie?

15. Dan sal jy kom uit jou woonplek, uit die agterhoeke van die Noorde, jy en baie volke saam met jou wat almal op perde ry, ’n groot menigte en ’n magtige leër;

16. en jy sal optrek teen my volk Israel soos ’n wolk om die land te oordek. Aan die einde van die dae sal dit wees — dan sal Ek jou teen my land laat aankom, sodat die nasies My kan ken as Ek My in jou, o Gog, voor hulle oë as die Heilige laat ken.

17. So sê die Here Here: Is jy dit van wie Ek in die voortyd gespreek het deur my knegte, die profete van Israel, wat in dié dae geprofeteer het, jare lank, dat Ek jou teen hulle sal laat aankom?

18. Maar in dié dag, die dag as Gog teen die land van Israel aankom, spreek die Here Here, sal my grimmigheid in my neus opkom.

19. Ja, in my ywer spreek Ek, in die vuur van my grimmigheid: Waarlik, in dié dag sal daar ’n groot aardbewing wees in die land van Israel,

20. sodat van my aangesig af weg sal bewe die visse van die see en die voëls van die hemel en die wilde diere van die veld en al die gedierte wat op die grond kruip, en al die mense wat op die aarde is; en die berge sal omvergegooi word en die kranse inmekaarstort en al die mure op die aarde val.

21. En Ek sal die swaard oproep teen hom na al my berge, spreek die Here Here; die swaard van die een sal teen die ander wees.

22. En Ek sal met hom in die gereg gaan deur pes en deur bloed; en oorstromende stortreën en haelstene, vuur en swawel op hom laat reën en op sy leërs en op baie volke wat saam met hom is.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 38