Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 37:4-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Daarop sê Hy vir my: Profeteer oor hierdie bene en sê vir hulle: Dor bene, hoor die woord van die Here!

5. So spreek die Here Here tot hierdie bene: Kyk, Ek bring gees in julle in, sodat julle lewendig kan word.

6. En Ek sal senings op julle lê en vlees oor julle laat opkom en ’n vel oor julle trek en gees in julle gee, sodat julle lewendig kan word; en julle sal weet dat Ek die Here is.

7. Toe het ek geprofeteer soos my beveel was. En sodra ek geprofeteer het, was daar ’n geruis, en kyk — ’n beroering! En die bene het nader gekom, elke been na sy been.

8. Toe kyk ek en — daar was senings op hulle, en daar het vlees op gekom, en ’n vel is bo-oor hulle getrek, maar daar was geen gees in hulle nie.

9. Daarop sê Hy vir my: Profeteer tot die gees, profeteer, mensekind, en sê aan die gees: So spreek die Here Here: Kom aan uit die vier windstreke, o gees, en blaas in hierdie dooies, dat hulle lewendig kan word.

10. En ek het geprofeteer soos Hy my beveel het. Toe het die gees in hulle gekom, en hulle het lewendig geword en op hulle voete gaan staan — ’n ontsaglike groot leër!

11. Toe sê Hy vir my: Mensekind, hierdie bene is die hele huis van Israel. Kyk, hulle sê: Ons bene is verdor, en ons verwagting is verlore; dit is klaar met ons!

12. Daarom, profeteer en sê aan hulle: So spreek die Here Here: Kyk, Ek sal julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, o my volk! En Ek sal julle bring in die land van Israel.

13. En julle sal weet dat Ek die Here is as Ek julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, o my volk!

14. En Ek sal my Gees in julle gee, dat julle lewendig kan word; en Ek sal julle vestig in jul land; en julle sal weet dat Ek, die Here, dit gespreek en gedoen het, spreek die Here.

15. Verder het die woord van die Here tot my gekom en gesê:

16. En jy, mensekind, neem vir jou ’n stuk hout, en skrywe daarop: Vir Juda en vir die kinders van Israel, sy bondgenote; en neem ’n ander stuk hout en skrywe daarop: Vir Josef (die hout van Efraim) en die hele huis van Israel, sy bondgenote.

17. Voeg hulle dan vir jou bymekaar, die een by die ander, om een stuk hout te wees, en laat hulle een word in jou hand.

18. En as die kinders van jou volk met jou spreek en sê: Sal u ons nie te kenne gee wat u met hierdie dinge bedoel nie?

19. sê dan vir hulle: So spreek die Here Here: Kyk, Ek sal die stuk hout van Josef neem, wat in die hand van Efraim is, en die stamme van Israel, sy bondgenote, en Ek sal hulle by hom voeg, by die stuk van Juda, en hulle een stuk hout maak; en hulle sal een word in my hand.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 37