Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 34:18-31 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. Is dit vir julle nie genoeg dat julle die goeie weiveld afwei nie? En moet julle die orige van jul weiveld met jul pote vertrap? En moet julle die helder water drink, terwyl julle die wat oorbly, met jul pote troebel maak?

19. En moet my skape afwei wat met julle pote vertrap is, en drink wat met julle pote troebel gemaak is?

20. Daarom, so sê die Here Here vir hulle: Kyk, hier is Ek, en Ek sal oordeel tussen die vet skape en die maer skape.

21. Omdat julle al die swakkes met skof en skouer wegdruk en met julle horings stoot, totdat julle hulle uitgejaag het,

22. daarom sal Ek my skape red, sodat hulle nie meer ’n prooi sal wees nie; en Ek sal oordeel tussen skape en skape.

23. En Ek sal een enkele herder oor hulle verwek, en hy sal hulle laat wei, naamlik my kneg Dawid; hy sal hulle laat wei, en hy sal vir hulle ’n herder wees.

24. En Ek, die Here, Ek sal vir hulle ’n God wees, en my kneg Dawid ’n vors in hulle midde. Ek, die Here, het dit gespreek.

25. En Ek sal ’n verbond van vrede met hulle sluit en die wilde diere uit die land laat verdwyn; en hulle sal veilig bly in die woestyn en slaap in die bosse.

26. En Ek sal hulle en die plekke rondom my heuwel tot ’n seën maak en die stortreën laat val op sy tyd; stortreëns van seën sal dit wees.

27. En die bome van die veld sal hulle vrugte gee, en die land sal sy opbrings gee, en hulle sal veilig wees in hul land; en hulle sal weet dat Ek die Here is as Ek hulle jukskeie stukkend breek en hulle red uit die hand van die wat hulle diensbaar gemaak het.

28. En hulle sal nie meer ’n prooi vir die nasies wees nie, en die wilde diere van die land sal hulle nie opeet nie; maar hulle sal veilig woon sonder dat iemand hulle verskrik.

29. En Ek sal vir hulle plante van naam verwek, sodat hulle nie meer deur hongersnood in die land weggeruk sal word nie en die smaad van die nasies nie meer sal dra nie.

30. Maar hulle sal weet dat Ek, die Here hulle God, met hulle is, en dat hulle, die huis van Israel, my volk is, spreek die Here Here.

31. En julle is my skape, die skape van my weide; julle is mense, Ek is julle God, spreek die Here Here.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 34