Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 34:16-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. Die wat verlore is, sal Ek soek, en wat weggedryf is, sal Ek terugbring, en wat gewond is, sal Ek verbind, en die siekes sal Ek versterk; maar die vettes en die sterkes sal Ek verdelg: Ek sal hulle oppas soos dit reg is.

17. En wat julle aangaan, my skape, so sê die Here Here, kyk, Ek sal oordeel tussen skape en skape, die ramme en die bokramme.

18. Is dit vir julle nie genoeg dat julle die goeie weiveld afwei nie? En moet julle die orige van jul weiveld met jul pote vertrap? En moet julle die helder water drink, terwyl julle die wat oorbly, met jul pote troebel maak?

19. En moet my skape afwei wat met julle pote vertrap is, en drink wat met julle pote troebel gemaak is?

20. Daarom, so sê die Here Here vir hulle: Kyk, hier is Ek, en Ek sal oordeel tussen die vet skape en die maer skape.

21. Omdat julle al die swakkes met skof en skouer wegdruk en met julle horings stoot, totdat julle hulle uitgejaag het,

22. daarom sal Ek my skape red, sodat hulle nie meer ’n prooi sal wees nie; en Ek sal oordeel tussen skape en skape.

23. En Ek sal een enkele herder oor hulle verwek, en hy sal hulle laat wei, naamlik my kneg Dawid; hy sal hulle laat wei, en hy sal vir hulle ’n herder wees.

24. En Ek, die Here, Ek sal vir hulle ’n God wees, en my kneg Dawid ’n vors in hulle midde. Ek, die Here, het dit gespreek.

25. En Ek sal ’n verbond van vrede met hulle sluit en die wilde diere uit die land laat verdwyn; en hulle sal veilig bly in die woestyn en slaap in die bosse.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 34