Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 32:11-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Want so sê die Here Here: Die swaard van die koning van Babel sal oor jou kom.

12. Ek sal jou menigte laat val deur swaarde van helde — die geweldigste nasies, hulle almal; en hulle sal die prag van Egipte verwoes, en sy hele menigte sal verdelg word.

13. En Ek sal al sy vee laat omkom by die groot waters; en geen mensevoet sal dit weer laat roer nie en geen dier se kloue dit troebel maak nie.

14. Dan sal Ek hulle waters laat besink en hulle riviere laat vloei soos olie, spreek die Here Here.

15. As Ek Egipteland ’n wildernis maak en die land woes lê, van sy volheid beroof, as Ek almal wat daarin woon, verslaan het, dan sal hulle weet dat Ek die Here is.

16. ’n Klaaglied is dit, en hulle moet dit sing; die dogters van die nasies moet dit sing; hulle moet dit sing oor Egipte en oor sy hele menigte, spreek die Here Here.

17. En in die twaalfde jaar, op die vyftiende van die maand, het die woord van die Here tot my gekom en gesê:

18. Mensekind, weeklaag oor die menigte van Egipte, en laat hulle neerdaal (hy met die dogters van geweldige nasies) in die onderste plekke van die aarde, by die wat in die kuil neergedaal het.

19. Bo wie is jy skoon? Daal af, en laat jou neerlê by die onbesnedenes.

20. Onder die wat deur die swaard verslaan is, sal hulle val; die swaard is aangegee; trek hom weg saam met sy hele menigte.

21. Die magtigste helde sal hom, met sy helpers, toespreek uit die doderyk uit: Hulle het neergedaal, hulle lê daar — die onbesnedenes, verslaan deur die swaard.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 32