Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 32:1-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN in die twaalfde jaar, in die twaalfde maand, op die eerste van die maand, het die woord van die Here tot my gekom en gesê:

2. Mensekind, hef ’n klaaglied aan oor Farao, die koning van Egipte, en sê vir hom: Jong leeu onder die volke, verlore is jy! En jy was soos ’n draak in die groot water, en jy het uitgebreek in jou strome en die waters geroer met jou pote en die strome daarvan troebel gemaak.

3. So sê die Here Here: So sal Ek dan my net oor jou uitsprei deur ’n vergadering van baie volke, en hulle sal jou optrek in my vangnet.

4. Dan sal Ek jou neerwerp op die land, jou wegslinger op die oop veld; en Ek sal al die voëls van die hemel op jou laat sit en die wilde diere van die hele aarde aan jou versadig.

5. En Ek sal jou vlees weggee op die berge en die dale vol maak met jou hoogheid.

6. En Ek sal jou stroomland natmaak met jou bloed tot by die berge; en die klowe sal vol word van jou.

7. En as Ek jou uitblus, sal Ek die hemel oordek en sy sterre verdonker; Ek sal die son met wolke oordek, en die maan sal sy lig nie laat skyn nie.

8. Al die skynende ligte aan die hemel, dié sal Ek om jou ontwil duister maak, en Ek sal duisternis gee oor jou land, spreek die Here Here.

9. En Ek sal die hart van baie volke bekommerd maak as Ek jou verbreking onder die nasies uitbring, na lande wat jy nie geken het nie.

10. En Ek sal maak dat baie volke oor jou verstom staan en hulle konings sal oor jou gril van skrik as Ek my swaard voor hulle swaai; en hulle sal elke oomblik sidder, elkeen vir sy lewe, op die dag van jou val.

11. Want so sê die Here Here: Die swaard van die koning van Babel sal oor jou kom.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 32