Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 30:8-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. En hulle sal weet dat Ek die Here is, as Ek ’n vuur werp in Egipte en al sy helpers verbreek word.

9. In dié dag sal daar boodskappers voor My uit wegvaar in skepe om die sorgelose Kus te verskrik; en dan sal daar angs onder hulle wees soos in die dag van Egipte. Want kyk, dit kom!

10. So sê die Here Here: Ja, Ek sal aan die menigte van Egipte ’n einde maak deur die hand van Nebukadrésar, die koning van Babel.

11. Hy en sy volk saam met hom, die geweldigste nasies, word aangevoer om die land te verwoes; en hulle sal hul swaarde teen Egipte uittrek en die land vul met gesneuweldes.

12. En Ek sal die strome droë grond maak en die land verkoop in die hand van kwaaddoeners en die land met sy volheid verwoes deur die hand van vreemdes. Ek, die Here, het dit gespreek.

13. So sê die Here Here: Ek sal ook die drekgode vernietig en die afgode laat verdwyn uit Nof, en daar sal geen vors meer wees uit Egipteland nie; en Ek sal vrees in Egipteland verwek.

14. En Ek sal Patros verwoes en ’n vuur werp in Soan en strafgerigte voltrek in No.

15. En Ek sal my grimmigheid uitgiet oor Sin, die vesting van Egipte; en Ek sal die menigte van No uitroei.

16. En Ek sal ’n vuur werp in Egipte: Sin sal bewe van angs, en No sal oopgebreek word, en Nof — vyande oordag!

17. Die jongmanne van On en Pi-Beset sal deur die swaard val, maar hulle self sal in gevangenskap gaan.

18. En in Tagpánhes word die dag duister as Ek daar die jukke van Egipte verbreek, en sy trotse mag daarin sal ophou; ’n wolk sal dit oordek, en sy dogters sal in gevangenskap gaan.

19. So sal Ek dan strafgerigte voltrek in Egipte; en hulle sal weet dat Ek die Here is.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 30