Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 27:7-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Veelkleurige fyn linne uit Egipte was jou seil, om vir jou as vlag te dien; pers en purper stowwe uit die kuslande van Elísa was jou hutbedekking.

8. Die inwoners van Sidon en Arwad was jou roeiers; jou wyse manne was in jou, o Tirus, hulle was jou stuurmanne.

9. Die oudstes van Gebal en sy wyse manne was in jou om jou lekplekke reg te maak; al die skepe van die see en hulle seevaarders was in jou om jou koopware te verhandel.

10. Perse en Ludiete en Putéërs was in jou leër, jou krygsmanne; skild en helm het hulle in jou opgehang; hulle het aan jou glans gegee.

11. Die kinders van Arwad en jou leër was op jou mure rondom, en die Gammadiete was op jou torings; hul skilde het hulle aan jou mure rondom gehang; hulle het jou skoonheid volkome gemaak.

12. Tarsis het handel gedrywe met jou weens die menigte van allerhande goed: silwer, yster, tin en lood het hulle as handelsartikels aan jou gelewer.

13. Jawan, Tubal en Meseg, hulle was jou koopmans; slawe en kopergoed het hulle as koopware aan jou gelewer.

14. Uit die huis van Togárma het hulle perde en ryperde en muilesels as handelsware aan jou gelewer.

15. Die kinders van Dedan was jou koopmans, baie kuslande die handelsgebied wat tot jou beskikking gestaan het; olifantstande en ebbehout het hulle aan jou as betaling gebring.

16. Aram het met jou handel gedrywe weens die menigte van jou kunswerke: karbonkel, purper en veelkleurige stowwe en fyn linne en korale en robyne het hulle as handelsartikels aan jou gelewer.

17. Juda en die land Israel, hulle was jou koopmans; koring van Minnit en meel en heuning en olie en balsem het hulle as koopware aan jou gelewer.

18. Damaskus het met jou handel gedrywe weens die menigte van jou kunswerke, weens die menigte van allerhande goed: wyn van Helbon en wit wol.

19. Wedan en Jawan het uit Usal aan jou smee-yster as handelsartikel gelewer; kassie en kalmoes was onder jou koopware.

20. Dedan het met jou handel gedrywe in saalkleedjies om op te ry.

21. Arabië en al die vorste van Kedar, hulle was die koopmans wat tot jou beskikking gestaan het; lammers en ramme en bokke — daarin het hulle met jou handel gedrywe.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 27