Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 26:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN in die elfde jaar, op die eerste van die maand, het die woord van die Here tot my gekom en gesê:

2. Mensekind, omdat Tirus oor Jerusalem geroep het: Ha, ha! die poort van die volke is gebreek, dit is na my toe gedraai; ék sal vol word, dit is verwoes —

3. daarom, so sê die Here Here: Kyk, Ek het dit teen jou, o Tirus! en Ek laat baie nasies teen jou optrek soos die see sy golwe laat optrek.

4. Húlle sal die mure van Tirus verwoes en sy torings afbreek; ja, Ek sal sy puin van hom af wegvee en hom ’n kaal rots maak.

5. Hy sal binne-in die see ’n droogmaakplek van nette wees; want Ek het dit gesê, spreek die Here Here; en hy sal ’n buit vir die nasies wees.

6. En sy dogters wat op die land is, sal met die swaard gedood word; en hulle sal weet dat Ek die Here is.

7. Want so sê die Here Here: Kyk, Ek laat Nebukadrésar, die koning van Babel, die koning van die konings, van die noorde af teen Tirus kom, met perde en strydwaens en ruiters en ’n menigte en baie mense.

8. Hy sal jou dogters op die land met die swaard doodmaak en forte teen jou opstel en ’n wal teen jou opwerp en die skilddak teen jou oprig.

9. En hy sal die stoot van sy stormram teen jou mure rig en jou torings met sy breekysters afbreek.

10. Vanweë die menigte van sy perde sal hulle stofwolk jou oordek; jou mure sal bewe vanweë die gedruis van ruiters en wiele en strydwaens as hy deur jou poorte intrek, soos ’n mens indring in ’n stad wat oopgebreek is.

11. Hy sal met die hoewe van sy perde al jou strate vertrap; jou mense sal hy met die swaard doodmaak, en jou trotse klippilare sal op die grond val.

12. En hulle sal jou rykdom buitmaak en jou koopware roof en jou mure afbreek en jou kosbare huise omgooi; en hulle sal jou klippe en jou houte en jou puin in die water slinger.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 26