Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 23:9-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Daarom het Ek haar oorgegee in die hand van haar minnaars, in die hand van die kinders van Assur na wie sy gesmag het.

10. Hulle het haar skaamte ontbloot, haar seuns en haar dogters weggeneem; maar haar het hulle met die swaard gedood, sodat sy ’n waarskuwende voorbeeld onder die vroue geword het, en hulle het strafgerigte aan haar voltrek.

11. Alhoewel haar suster Ohóliba dit gesien het, het sy dit tog met haar verliefdheid erger gemaak as sy, en met haar hoererye nog erger as haar suster.

12. Sy het gesmag na die seuns van Assur, goewerneurs en owerstes, krygshaftige mense, pragtig aangetrek, ruiters te perd, almal begeerlike jongmanne.

13. Toe het Ek gesien dat sy verontreinig was: altwee het dieselfde weg bewandel.

14. Ja, sy het nog meer gehoereer; toe sy manne sien wat op die muur afgeteken was, afbeeldinge van die Chaldeërs, geteken met rooiminie;

15. omgord met ’n gordel aan hulle heupe, met oorhangende tulbande op hulle hoofde, in hulle voorkoms almal offisiere, in die gestalte van die seuns van Babel wie se geboorteland Chaldéa is —

16. net toe sy hulle sien, het sy na hulle gesmag en boodskappers na hulle gestuur, na Chaldéa toe.

17. Daarop kom die kinders van Babel by haar, na die bed van liefde, en verontreinig haar met hulle hoerery, en sy het onrein geword deur hulle; daarna het haar siel van hulle vervreemd geraak.

18. En toe sy haar hoererye geopenbaar en haar skaamte ontbloot het, het my siel van haar vervreemd geraak, soos my siel vervreemd geraak het van haar suster.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 23