Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 23:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. VERDER het die woord van die Here tot my gekom en gesê:

2. Mensekind, daar was twee vroue, dogters van een moeder.

3. En hulle het in Egipte gehoereer; in hul jeug het hulle gehoereer; daar is hul borste betas, en daar is hul maagdelike boesem gedruk.

4. En hulle name was: Ohóla, die grootste, en Ohóliba, haar suster; en hulle het myne geword en seuns en dogters gebaar. En wat hulle name betref: Samaría is Ohóla en Jerusalem Ohóliba.

5. En Ohóla het gehoereer terwyl sy my vrou was, en het gesmag na haar minnaars, na die Assiriërs, krygshaftige mense

6. wat pers aangetrek was, goewerneurs en owerstes, almal begeerlike jongmanne, ruiters te perd.

7. En sy het haar hoererye aan hulle weggegee, hulle almal, die beste uit die kinders van Assur; en met almal na wie sy gesmag het — met al hulle drekgode het sy haar verontreinig.

8. So het sy dan haar hoererye, uit Egipte afkomstig, nie laat staan nie; want hulle het in haar jeug met haar gemeenskap gehad en hulle het haar maagdelike boesem gedruk en hul hoerery oor haar uitgestort.

9. Daarom het Ek haar oorgegee in die hand van haar minnaars, in die hand van die kinders van Assur na wie sy gesmag het.

10. Hulle het haar skaamte ontbloot, haar seuns en haar dogters weggeneem; maar haar het hulle met die swaard gedood, sodat sy ’n waarskuwende voorbeeld onder die vroue geword het, en hulle het strafgerigte aan haar voltrek.

11. Alhoewel haar suster Ohóliba dit gesien het, het sy dit tog met haar verliefdheid erger gemaak as sy, en met haar hoererye nog erger as haar suster.

12. Sy het gesmag na die seuns van Assur, goewerneurs en owerstes, krygshaftige mense, pragtig aangetrek, ruiters te perd, almal begeerlike jongmanne.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 23