Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 22:21-31 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

21. Ja, Ek sal julle versamel en met die vuur van my grimmigheid teen julle blaas, dat julle dáárin gesmelt kan word.

22. Soos silwer in die smeltoond gesmelt word, so sal julle dáárin gesmelt word; en julle sal weet dat Ek, die Here, my grimmigheid oor julle uitgegiet het.

23. Verder het die woord van die Here tot my gekom en gesê:

24. Mensekind, sê vir hom: Jy is ’n land wat nie gereinig is nie, wat nie reën gekry het in die dag van grimmigheid nie.

25. ’n Sameswering van sy profete is in hom, soos ’n leeu wat brul, wat prooi verskeur; hulle eet die siele op; skatte en kosbare dinge neem hulle weg; die weduwees vermeerder hulle daarin.

26. Sy priesters verkrag my wet en ontheilig my heilige dinge; tussen heilig en onheilig maak hulle geen onderskeid nie, en die verskil tussen onrein en rein gee hulle nie te kenne nie; daarby maak hulle hul oë toe vir my sabbatte; ja, Ek word onder hulle ontheilig.

27. Sy vorste is in hom soos wolwe wat prooi verskeur, om bloed te vergiet en siele om te bring, dat hulle onregverdige wins kan maak.

28. En sy profete pleister vir hulle met los kalk deur bedrieglike gesigte te sien en vir hulle leuens te voorspel met die woorde: So sê die Here Here — terwyl die Here nie gespreek het nie.

29. Die mense van die land pleeg geweld en eien hulle geroofde goed toe; ook verdruk hulle die ellendige en behoeftige, en teenoor die vreemdeling pleeg hulle geweld sonder reg.

30. En Ek het onder hulle ’n man gesoek wat ’n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie sou verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie.

31. Daarom het Ek my toorn oor hulle uitgegiet; deur die vuur van my grimmigheid het Ek hulle verteer; hulle wandel het Ek op hulle hoof laat neerkom, spreek die Here Here.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 22