Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 18:10-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. En het hy ’n geweldenaar van ’n seun verwek wat bloed vergiet en net maar een van hierdie dinge doen —

11. terwyl hy self dit alles nie gedoen het nie — as hy ook eet op die berge en die vrou van sy naaste verontreinig,

12. die ellendige en behoeftige verdruk, roof pleeg, die pand nie teruggee nie en sy oë opslaan na die drekgode, gruwelike dinge doen,

13. op rente leen en woeker neem — sal hy lewe? Hy sal nie lewe nie; al hierdie gruwels het hy gedoen; hy moet sekerlik gedood word; sy bloedskuld is op hom.

14. Maar kyk, as hy ’n seun verwek wat al die sondes van sy vader sien wat hy gedoen het — dit sien en sulke dinge nie doen nie:

15. nie eet op die berge en sy oë nie opslaan na die drekgode van die huis van Israel nie, die vrou van sy naaste nie verontreinig

16. en niemand verdruk nie, geen pand neem en geen roof pleeg nie, sy brood gee aan die wat honger het, en met ’n kleed toedek die wat naak is,

17. sy hand van die ellendige afhou, geen rente of woeker neem nie, my verordeninge volbring en in my insettinge wandel — hy sal nie sterwe weens die ongeregtigheid van sy vader nie, hy sal sekerlik lewe.

18. Sy vader sal, omdat hy aan verdrukking skuldig is, sy broer iets deur roof ontneem het en onder sy stamgenote gedoen het wat nie goed is nie — kyk, hy sal deur sy ongeregtigheid sterwe.

19. Maar julle sê: Waarom dra die seun nie saam die ongeregtigheid van die vader nie? Maar die seun het reg en geregtigheid gedoen en al my insettinge onderhou en dit volbring — hy sal sekerlik lewe!

20. Die siel wat sondig, dié moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees.

21. Maar as die goddelose hom bekeer van al sy sondes wat hy gedoen het, en al my insettinge onderhou en reg en geregtigheid doen, sal hy sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie.

22. Al sy oortredinge wat hy begaan het, sal hom nie toegereken word nie; deur sy geregtigheid wat hy gedoen het, sal hy lewe.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 18