Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 13:5-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. Julle het in die bresse nie opgegaan nie en die muur nie gebou om die huis van Israel, om in die stryd pal te staan in die dag van die Here nie.

6. Hulle het nietigheid gesien en leuenagtige waarsêery, hulle wat daar sê: Die Here het gespreek — terwyl die Here hulle nie gestuur het nie; en dan wag hulle op vervulling van die woord!

7. Het julle nie ’n bedrieglike gesig gesien en leuenagtige waarsêery gespreek nie deurdat julle sê: Die Here spreek, terwyl Ék nie gespreek het nie?

8. Daarom, so spreek die Here Here: Omdat julle valsheid gespreek en leuenagtige gesigte gesien het, daarom kyk, Ek het dit teen julle, spreek die Here Here.

9. En my hand sal wees teen die profete wat bedrieglike gesigte sien en leuens waarsê: hulle sal in die vergadering van my volk nie wees nie en in die boek van die huis van Israel nie opgeskryf word nie en in die land van Israel nie kom nie; en julle sal weet dat Ek die Here Here is.

10. Omdat, ja, omdat hulle my volk verlei het deur te sê: Vrede! terwyl daar geen vrede is nie; en as die volk ’n muur bou, kyk, dan bepleister hulle dit met los kalk;

11. sê vir hulle wat met los kalk pleister, dat dit sal afval; daar sal ’n oorstromende stortreën kom; en julle, haelstene, sal val en ’n stormwind sal losbreek.

12. En kyk, daar val die muur! Sal dan nie vir julle gesê word: Waar is die pleister waarmee julle gepleister het nie?

13. Daarom, so spreek die Here Here: Ja, Ek sal ’n stormwind in my grimmigheid laat losbreek, en daar sal ’n oorstromende stortreën kom in my toorn en haelstene in grimmigheid tot vernietiging.

14. En Ek sal die muur afbreek wat julle met los kalk gepleister het, en dit op die grond gooi, sodat sy fondament blootgelê sal word; dan sal die stad val, en julle sal daarin omkom; en julle sal weet dat Ek die Here is.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 13