Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 13:1-9 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN die woord van die Here het tot my gekom en gesê:

2. Mensekind, profeteer teen die profete van Israel wat profeteer, en sê aan die wat profete uit hulle eie hart is: Hoor die woord van die Here!

3. So spreek die Here Here: Wee die dwase profete wat agter hulle eie gees aan wandel en agter dinge wat hulle nie gesien het nie.

4. Jou profete, o Israel, is soos jakkalse in puinhope.

5. Julle het in die bresse nie opgegaan nie en die muur nie gebou om die huis van Israel, om in die stryd pal te staan in die dag van die Here nie.

6. Hulle het nietigheid gesien en leuenagtige waarsêery, hulle wat daar sê: Die Here het gespreek — terwyl die Here hulle nie gestuur het nie; en dan wag hulle op vervulling van die woord!

7. Het julle nie ’n bedrieglike gesig gesien en leuenagtige waarsêery gespreek nie deurdat julle sê: Die Here spreek, terwyl Ék nie gespreek het nie?

8. Daarom, so spreek die Here Here: Omdat julle valsheid gespreek en leuenagtige gesigte gesien het, daarom kyk, Ek het dit teen julle, spreek die Here Here.

9. En my hand sal wees teen die profete wat bedrieglike gesigte sien en leuens waarsê: hulle sal in die vergadering van my volk nie wees nie en in die boek van die huis van Israel nie opgeskryf word nie en in die land van Israel nie kom nie; en julle sal weet dat Ek die Here Here is.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 13